Oor die skrywers

Kinders by ‘n kostafel in ‘n tentdorp op Tulbagh se skouterrein. Foto: Independent-versameling, Universiteit van Kaapstad.

Oor die skrywers

Rosette Jordaan is ‘n skrywer en kunstenaar, gebore en getoë op die plaas Kleinfontein teen die Witzenberg bokant Tulbagh, waar sy ook skoolgegaan het. Na haar universiteitsopleiding op Stellenbosch trou sy met Kobus Jordaan, mede-eienaar en wynmaker op Theuniskraal. Hy sterf in 2010, in die slaapkamer waar hy gebore is. Sy het twee seuns – Wagner en Flippie, wat nou op Theuniskraal boer – en twee dogters, Heidi van der Westhuizen, kunstenaar in die Kaap, en Esthéa Russouw, boervrou en perde-gesondheidsbeampte op Darling. Sy het ook tien kleinkinders. Sy woon steeds op die landgoed. Sedert 1984 was sy korrespondent vir Die Burger, Worcester Standard en Witzenberg Herald. Sy is ook die skrywer van Moderne Borduurwerk (Tafelberg, 1982) en NG Gemeente Tulbagh 1743-1993 (1993), en het bygedra tot Tulbagh: Roodezandt, ‘t Land van Waveren (2010) deur ds. M.J.N. van Zyl.


Calvin S. van Wijk is ‘n gebore Kapenaar met ‘n intense belangstelling in die geskiedenis. Hy het grade in Geskiedenis en Antropologie verwerf aan die universiteite van Wes-Kaapland,  Stellenbosch en Kaapstad. Hy is ‘n kampvegter vir die bewaring van die materiële kultuur-erfenis van die Wes-Kaap en Noord-Kaap, en ‘n ywerige geskiedenisnavorser, veral oor slawe en die sendinggeskiedenis. Hy het ‘n groot versameling foto’s oor die Rynse Sendinggenootskap opgebou wat deur die Universiteit van Stellenbosch bewaar word. Ná jare se ondervinding as onderwyser, predikant en erfenisbewaarder het hy ses jaar gelede bestuurder van die Oude Kerk Volksmuseum geword. Hy woon in Kraaifontein.


Theoniel Potgieter is ‘n boorling van Tulbagh, het daar matriek voltooi. en toe ‘n B.A. Honneursgraad (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Ten tyde van die aardbewing het hy by Die Burger gewerk. Ná 16 jaar by Nasionale Pers, waartydens hy ‘n L.LB-graad deur UNISA voltooi het, het hy hom by die Kaapse Balie aangesluit, waar hy steeds as senior advokaat praktiseer.

 

 


Dr J.N. (Hannes) Theron is gebore in die Transvaal, het matriek aan die Worcester Hoër Jongens Skool voltooi, en is toe as geoloog aan die Universiteit van Stellenbosch opgelei. Hy was van 1960 tot 1994 in diens van die Geologiese Opname van Suid-Afrika, en het gevorder tot Hoofgeoloog en Streekshoof vir die Wes-Kaap. Hy is die skrywer en medeskrywer van talle plaaslike en internasionale geologiese publikasies. Hy woon in Jonkershoek.

 


Riaan de Villiers is ‘n kontrak-uitgewer en taalversorger. Hy het ‘n B.A. Honneursgraad in politieke filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy het voorheen gewerk by Die Burger, die Rand Daily Mail, die Cape Times, Die Suid-Afrikaan, en die tydskrif Leadership. Ná jare in Johannesburg woon hy nou weer in Kaapstad.