Resensie deur Kerneels Breytenbach

Twee mans wat die nag na die aardbewing die Nuwekloofpas aangedurf het, probeer om ‘n yslike klip uit die pad uit te rol. Theoniel Potgieter het dieselfde nag vanaf Die Burger in Kaapstad oor die pas gery om die eerste foto’s in Tulbagh te gaan haal. Cape Times-versameling.

‘n Ware versamelstuk … ‘n kosbare toevoeging tot die geskiedskrywing oor ons volksboukunde. …’ So skryf Kerneels Breytenbach, oud-joernalis, voormalige uitgewer en skrywer, oor Tulbagh Onthou in ‘n resensie wat op 3 Februarie 2020 in Die Burger verskyn. Die volledige resensie volg:

ʼn Gedenkboek wat onthou

ʼn Gedenkboek oor ʼn aardbewing is ʼn vreemde konsep, maar hier het ek dit in my hande, en uit my besit laat ek dit nie gaan nie. Rosette Jordaan, die hoofskrywer, vertel van van die ‘nag van skok en verskrikking en totale verbystering … ʼn nag waarin die eens rustige gemeenskap onder die puin en rommel sou uitvlug om verward en benoud onder die ope sterrehemel op die uitkoms van die dag te wag’.

Dit was die aand van 29 September 1969 wat verward oorgehewel het in 30 September in. Hierdie besonderse poging om bestek te neem van die natuurramp wat Tulbagh, Ceres en Wolseley 50 jaar gelelede getref het, bring baie dinge bymekaar – geskiedenis, sosiale weerbaarheid en ondersteuning, legendes en feite, die omvang van die ramp en die nadraai, met ongelooflike verhale van vasberadenheid en die gewone bedonderdheid van mense wat niks sou ontsien om herstel te bring nie  Maar bowenal vertel dit die verhaal van die diepe liefde wat die dorp se boorlinge vir Tulbagh het.

As oudjoernalis van Die Burger het ek legio verhale by die betrokkenes gehoor van die manier waarop die koerant op die aardbewing gereageer het. Theoniel Potgieter se skitterende hoofstuk daaroor volg op Jordaan se uitstekende hoofstuk oor die dorp se geskiedenis. Die voorblaaie van Die Burger wat afgedruk is, is kosbare dokumente.

Dié twee bydraes plaas die boek op  ʼn baie hoe peil, en al die daaropvolgende bydraes handhaaf dit. Ek kan nie nalaat om Riaan de Villiers, Calvin S. van Wijk en Hannes Theron se name te noem nie. Hulle bring daardie bykomende diepte en perspektief en vul Jordaan se ander bydraes aan.

Met natuurrampe soos hierdie verval dinge so maklik in ʼn ‘dit was aand en dit was môre’-relaas. Nie hier nie. Hier is dit die dorp en sy mense wat getakseer word, in diepte. Dit is uit die staanspoor duidelik dat baie groot moeite gedoen is, nie net met die gehalte van die bydraes nie, maar ook die illustrasies.

Siel van die dorp en sy mense

Later, wanneer koerantfoto’s (Cape Times, Independent, Media24), foto’s uit die Fagan-versameling, en foto’s uit Cloete Breytenbach se nalatenskap bykom, kry mens die bykomende, ontredderende blik op die gemoedere van die getroffenes. Veral Breytenbach se foto’s kry dit reg om die siel van die dorp en sy mense vas te vang.

Danksy die taal- en teksversorging (Bun Booyens en Potgieter), en die sekuur redaksionele leiding van De Villiers, maak die geskrewe bydraes die boek sy prys dubbel en dwars werd; die foto’s maak van hierdie boek ʼn ware versamelstuk. Dis ʼn kosbare toevoeging tot die geskiedskrywing oor ons volksboukunde.

Voorblad van Die Burger se spesiale uitgawe op die oggend na die aardbewing.

Bekendstelling op Wellington

Van links na regs is Riaan de Villiers, Rosette Jordaan, Chris van Niekerk, Cloete Breytenbach se dogter Felicity, en sy weduwee, Brenda.

Die boek Tulbagh Onthou: ’n Herdenking van die aardbewing van vyftig jaar gelede is op Saterdagoggend 14 Desember by die Bôrdienghuis Teater by die Breytenbach Sentrum op Wellington plaaslik bekend gestel.

Chris van Niekerk, akteur en aanbieder van die destydse KykNet-program ‘Onthou’, het uit die boek voorgelees, en daarna met die hoofskrywer, Rosette Jordaan, gesels oor die boek.

Die bekendstelling het ook gedien as huldeblyk aan die fotograaf Cloete Breytenbach, wat destyds ’n uitmuntende foto-essay in die rampdorpe geneem het. Baie van die foto’s is in die boek gebruik. Cloete is in Junie vanjaar skielik oorlede. Van sy foto’s is tydens die bekendstelling geprojekteer, en Riaan de Villiers, die boek se besturende redakteur, het oor die foto’s gesels.

Cloete se weduwee, Brenda, en sy dogter Felicity het ook die bekendstelling bygewoon, en boeke is aan hulle oorhandig. Die Breytenbach Sentrum is gevestig in die huis waar Cloete en sy broers – onder meer die digter en skilder Breyten Breytenbach – grootgeword het.

Die geleentheid was baie suksesvol, en is deur sowat 35 mense bygewoon.

Miempie van Zyl en haar dogter Susan (later du Toit) in die tentdorp op Tulbagh se skoolplein. Foto: Cloete Breytenbach

Wolgooi op Tulbagh

Tydens die vyftigjarige herdenking van die aardbewing in die noord-Boland is Tulbagh se hoofstraat op ‘n besonderse manier opgevrolik. Soos die foto’s toon is kleurryke gebreide werk rondom bome in Van Der Stelstraat aangebring – veral in die omgewing van die Ou Sendingkerk.

Dit was ‘n voorbeeld van wolgooi – of yarn bombing – ‘n nuwe vorm van straatkuns wat in jonger jare in die VSA en toe Engeland posgevat het, en wat vir die herdenkingsnaweek op Tulbagh ingespan is. Hoewel besonderhede oor die wolgooi-poging nog skraps is, is dit blykbaar onderneem deur ‘n hele span mense op Tulbagh en elders. Mense het gebrei en gehekel tot in Houtbaai.

‘n Leidende rol is gespeel deur Amy Sidego, eggenote van Conrad Sidego, ‘n boorling van Tulbagh wat later Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke geword het, en meer onlangs uitvoerende burgemeester van Stellenbosch was. Amy het ook persoonlik ‘n pragtige stel lappieskomberse gemaak wat tydens die dankseggingsdiens oor die balkon in die Ou Sendingkerk gehang het.

Die idee is nou dat die wolgoed mense in Tulbagh aanstaande winter warm moet hou.

Conrad is tans ongesteld, en hy en Amy kon nie liggaamlik die verrigtinge bywoon nie. Maar die wolgooi het gesorg dat hulle wel deeglik in die gees teenwoordig was.

Dankseggingsdiens in die ou Sendingkerk

Tant Lenie Roode, die oudste oorlewende van die aardbewing op Tulbagh, verlaat die Ou Sendingkerk ná die dankseggingsdiens.

Een van die hoogtepunte van Tulbagh se herdenkingsnaweek was ’n dankseggingsdiens in die ou Sendingkerk in Van der Stelstraat op Sondagoggend 29 September. Dit was die eerste keer in baie jare dat ’n kerkdiens in die historiese ou kerkgebou gehou is.

Die diens is gereel deur die Oude Kerk Volksmuseum (OKV), wat baie moeite gedoen het om die kerk vir die geleentheid reg te maak en voor te berei. Na jare van onbruik is beheer van die kerkgebou vroeer vanjaar aan die OKV oorhandig, wat van plan is om meer aktief daarvan gebruik te maak.

Die diens het begin met ’n voorspel deur die plaaslike Basuine-orkes. Shurine van Niekerk van die OKV het die teenwoordiges verwelkom, en die museum se bestuurder, Ds Calvin van Wijk, het die Votum waargeneem.

Elizabeth Sidego, wyksraadslid vir Tulbagh op die Witzenberg Munisipaliteit, het ’n oorsig gegee van die impak van die aardbewing op Tulbagh se gemeenskap, en die lesse wat daaruit geleer kan word.

Hierop het Rosette Jordaan, hoofskrywer van die boek Tulbagh Onthou, Lenie Roode, die oudste oorlewende van die aardbewing op Tulbagh, en Babsie Adams ’n kranslegging ter herdenking van die mense wat in die aardbewing gesterf het,  waargeneem. Diensgangers is genooi om vyftig kerse ter herdenking van die aardbewing aan die brand te steek.

’n Verteenwoordiger van die VGK het formeel beheer van die kerkgebou aan die OKV oorhandig. Kallie Baadjies, ouderling van die VGK-gemeente en lid van die Raad van Trustees van die OKV,  het ’n gebed gedoen. Ds Reggie Simpson, leraar van die VGK-gemeente, het die Skriflesing en Woordbediening waargeneem, en ook die Seën uitgespreek. Ds Van Wijk het bedankings gedoen, en die Basuine-orkes het ’n naspel gelewer. Tee en versnaperinge is bedien.

Almal wat die diens bygewoon het – plaaslike mense asook besoekers — het ingestem dat dit ’n besonderse geleentheid was wat hulle lank sal bybly.

Tulbagh se Basuine-orkes tydens die naspel.