Meer oor die boek

Twee kinders klouter in die puin van ’n huis in die rampgebied. Foto: Gallo Images / Media24

Meer oor die boek

Vyftig jaar gelede, om drie minute oor tien op 29 September 1969, is die Noord-Boland getref deur ’n aardbewing van 6.3 op die Richterskaal. Die middelpunt van die aardbewing was net buite Tulbagh, tuiste van sommige van die oudste kerke, Kaaps-Hollandse huise en wynplase in Suid-Afrika. Tien van die elf mense (meestal kinders) wat in die skudding gesterf het, is in en om die dorpie dood.

In hierdie boek – wat met die vyftigjarige herdenking van die aardbewing saamval – verwesenlik Rosette Jordaan, ’n boorling van Tulbagh, ’n lewensideaal om dié geskiedenis op te teken voordat dit uit die menseheugenis verdwyn. Die resultaat is ’n skatkis van verhale en vertellinge –  aangrypend, amusant, onvergeetlik.

Ander bydraers lig ander aspekte van die aardbewing en sy nagevolge toe. ’n Oud-koerantman – ook ’n boorling van Tulbagh – vertel van sy middernagtelike rit na Tulbagh om die eerste foto’s te gaan haal. ’n Seismoloog ontleed die skudding en vertel hoekom mense in die streek op die onverwagte bedag moet bly.

Uittreksels uit die plaaslike koerantjie, Ons Courier, beskryf die omvattende noodlenigings- en rekonstruksieprogram wat die streek weer op sy voete geplaas het.

Aandag word geskenk aan die restourasie van die historiese Kerkstraat, die grootste enkele restourasieprojek nog in Suid-Afrika, wat ’n nuwe toerismebedryf vir Tulbagh en sy distrik ingelui het.

’n Geskiedkundige werp ook lig op ’n meer verborge aspek van die aardbewing en sy nagevolge, naamlik hoe die ower-hede destyds die geleentheid aangegryp het om groter rasseskeiding in die streek te bewerkstellig. In die proses het talle historiese en deels gemengde woonbuurte in die slag gebly – en daarmee saam ’n plattelandse leefwyse wat uit die tyd van die vrystelling van die slawe gedateer het.

Laastens besin die teks kortliks oor die breër betekenis van die aardbewing en sy nagevolge vir Tulbagh en sy mense, ook die toekoms in.

’n Spesiale poging is aangewend om foto’s oor Tulbagh se geskiedenis, die aardbewing en sy nagevolge op te spoor en die boek bevat ’n ryke oes aan foto’s waarvan baie nog nooit gepubliseer is nie.

‘n Vrou voor die tentdorp op die plein voor die bekende ou Tulbagh-Hoërskool. Die skool is later gesloop. Foto: Cloete Breytenbach