Boodskap van die hoofborg

John Lomberg, bestuurder: belanghebbende betrekkinge en korporatiewe maatskaplike belegging, Santam

Santam is trots om die hoofborg te wees van hierdie boek wat uitgegee word om saam te val met die 50ste herdenking van die aardbewing wat Tulbagh en sy omgewing op 29 September 1969 geskud het.

Ons maatskappy is baie bewus van sy korporatiewe verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap, soos onder meer blyk uit sy vennootskap met die Departement van Samewerkende Regering, bekend as P4RR (Partnership for Risk and Resilience). Hierdie vennootskap help munisipaliteite om hulself beter toe te rus om veral die risiko’s van brande en oorstromings binne kwesbare gemeenskappe te beveg en te beheer. Santam het hierdie program in die laaste tyd aansienlik uitgebrei om rampbeheerdienste in talle plaaslike owerhede se gebiede te verbeter. Ons raam dat meer as 5 miljoen mense in 10 distriksmunisipaliteite en 53 plaaslike munisipaliteite uiteindelik oor die volgende paar jaar hierby baat sal vind.

Santam heg groot waarde aan sy verantwoordbaarheid in sy rol as ‘n verantwoordelike korporatiewe burger van die Suid-Afrikaanse samelewing. In hierdie verband gaan ons vennootskappe aan, bou kapasiteit en skep volhoubare oplossings en praktyke om gemeenskappe te help om risiko’s te verminder of te voorkom en beter te bestuur. Santam sien uit na verdere samewerking met die plaaslike owerhede in die Witzenberg-gebied.