Conrad Sidego-sentrum op dreef

Die Conrad Sidego-sentrum by die Oude Kerk Volksmuseum is op dreef ! Die sentrum – ‘n uitvloeisel van die Tulbagh Onthou-boekprojek — bied jong mense ‘n plek waar hul kan toegang kry tot die internet en hul rekenaar-geletterdheid kan uitbou. Skoolkinders gebruik dit veral om aanlyn navorsing te doen vir hul skoolprojekte, en die projekte dan netjies voor te berei en uit te druk.

Die sentrum is ‘n gesamentlike onderneming deur die Oude Kerk Volksmuseum en die Tulbagh Onthou-projek. Die museum voorsien die sentrum van ‘n lokaal, kragtoevoer, ander infrastruktuur, en wyeband-internetkoppeling. Toerusting word aangekoop uit die opbrengs van boekverkope.

Die sentrum is tans toegerus met vier kompers asook ‘n volkleur-laserdrukker en ‘n bindmasjien. Meer kompers asook ‘n skandeerder sal mettertyd bygevoeg word. Rekenaar-kursusse word ook in die vooruitsig gestel.

Die sentrum is in Maart amptelik geopen, maar weens COVID-beperkinge en regulasies het dit ‘n paar maande geneem om dit volledig toe te rus en in werking te stel. Leerlinge van verskeie plaaslike skole het die sentrum in Augustus begin gebruik, en benutting het van toe af gestadig toegeneem.

Die Tulbagh Onthou-projekspan spreek hiermee hul waardering uit teenoor die Oude Kerk Volksmuseum vir sy onmisbare rol in hierdie onderneming. Kern-rolspelers is Nick van Huyssteen, voorsitter van die Raad van Trustees; Shurine van Niekerk, die museum se waarnemende bestuurder; en Shaun Martin, ‘n personneellid van die Museum en ‘n rekenaarkundige. Shaun behartig tans die sentrum se bestuur.

Similar Posts