Conrad Sidego-sentrum geopen

DIE CONRAD SIDEGO-SENTRUM, ‘n uitvloeisel van die Tulbagh Onthou-projek, is op Saterdag 27 Maart 2021 amptelik geopen. Die Sentrum word gehuisves by die Oude Kerk Volksmuseum in Kerkstraat, Tulbagh. Dit bied jong mense ‘n veilige plek waar hulle kan toegang kry tot die internet en hul rekenaargeletterdheid kan uitbou. Dit is vernoem na Conrad Sidego, ‘n bekende boorling van Tulbagh, wat in April 2020 oorlede is.

Die opening is bygewoon deur verteenwoordigers van Tulbagh se skole, kerke en ander gemeenskaps-organisasies, asook ander belanghebbendes. Die teenwoordiges is verwelkom deur Raadslid Barnito Klaasen, Uitvoerende Burgemeester van die Witzenberg Munisipaliteit. Ander sprekers was Raadslid Elizabeth Sidego van die Witzenberg Munisipaliteit, ‘n suster van Conrad Sidego, asook Me. Anroux Marais, Minister van Kultuursake en Sport van die Wes-Kaapse Regering.

Die uithangbord is gesamentlik onthul deur Me. Marais asook Me. Amy Sidego, Conrad se weduwee. Nick van Huyssteen, voorsitter van die Raad van Trustees van die Oude Kerk Volksmuseum, het daarop bedankings gedoen, gevolg deur verversings en gesellige verkeer.

Soos elders vermeld, is die Tulbagh Onthou-boekprojek ‘n nie-winsgewende projek wat befonds is deur institusionele asook individuele skenkers. Van die vernaamste skenkers het versoek dat die befondsing so benut moes word dat dit ontwikkeling op Tulbagh bevorder.

Die projek se bestuurspan het dienooreenkomstig onderneem om alle opbrengste uit die boek se verkope aan te wend vir ‘n ontwikkelingsprojek op Tulbagh. ‘n Behoefte is uitgeken vir ‘n sentrum by die Oude Kerk Volksmuseum waar jong mense kan toegang kry tot die internet, onderrig kan ontvang in rekenaar-geletterheid, en gebruik kan maak van meer gespesialiseerde rekenaar-toerusting. ‘n Verdere besluit is geneem om die sentrum na Conrad Sidego te vernoem.

Conrad, ‘n bekende boorling en ereburger van Tulbagh, het ‘n kern-rol daarin gespeel om befondsing vir die Tulbagh Onthou-projek te bekom, en hom ook beywer vir die digitale geletterdheid van die dorp se jong mense. Hy het in die loop van die projek siek geword en is in April 2020 ontydig oorlede. Lees meer oor Conrad hier.

Similar Posts