Resensie deur Kerneels Breytenbach

Twee mans wat die nag na die aardbewing die Nuwekloofpas aangedurf het, probeer om ‘n yslike klip uit die pad uit te rol. Theoniel Potgieter het dieselfde nag vanaf Die Burger in Kaapstad oor die pas gery om die eerste foto’s in Tulbagh te gaan haal. Cape Times-versameling.

‘n Ware versamelstuk … ‘n kosbare toevoeging tot die geskiedskrywing oor ons volksboukunde. …’ So skryf Kerneels Breytenbach, oud-joernalis, voormalige uitgewer en skrywer, oor Tulbagh Onthou in ‘n resensie wat op 3 Februarie 2020 in Die Burger verskyn. Die volledige resensie volg:

ʼn Gedenkboek wat onthou

ʼn Gedenkboek oor ʼn aardbewing is ʼn vreemde konsep, maar hier het ek dit in my hande, en uit my besit laat ek dit nie gaan nie. Rosette Jordaan, die hoofskrywer, vertel van van die ‘nag van skok en verskrikking en totale verbystering … ʼn nag waarin die eens rustige gemeenskap onder die puin en rommel sou uitvlug om verward en benoud onder die ope sterrehemel op die uitkoms van die dag te wag’.

Dit was die aand van 29 September 1969 wat verward oorgehewel het in 30 September in. Hierdie besonderse poging om bestek te neem van die natuurramp wat Tulbagh, Ceres en Wolseley 50 jaar gelelede getref het, bring baie dinge bymekaar – geskiedenis, sosiale weerbaarheid en ondersteuning, legendes en feite, die omvang van die ramp en die nadraai, met ongelooflike verhale van vasberadenheid en die gewone bedonderdheid van mense wat niks sou ontsien om herstel te bring nie  Maar bowenal vertel dit die verhaal van die diepe liefde wat die dorp se boorlinge vir Tulbagh het.

As oudjoernalis van Die Burger het ek legio verhale by die betrokkenes gehoor van die manier waarop die koerant op die aardbewing gereageer het. Theoniel Potgieter se skitterende hoofstuk daaroor volg op Jordaan se uitstekende hoofstuk oor die dorp se geskiedenis. Die voorblaaie van Die Burger wat afgedruk is, is kosbare dokumente.

Dié twee bydraes plaas die boek op  ʼn baie hoe peil, en al die daaropvolgende bydraes handhaaf dit. Ek kan nie nalaat om Riaan de Villiers, Calvin S. van Wijk en Hannes Theron se name te noem nie. Hulle bring daardie bykomende diepte en perspektief en vul Jordaan se ander bydraes aan.

Met natuurrampe soos hierdie verval dinge so maklik in ʼn ‘dit was aand en dit was môre’-relaas. Nie hier nie. Hier is dit die dorp en sy mense wat getakseer word, in diepte. Dit is uit die staanspoor duidelik dat baie groot moeite gedoen is, nie net met die gehalte van die bydraes nie, maar ook die illustrasies.

Siel van die dorp en sy mense

Later, wanneer koerantfoto’s (Cape Times, Independent, Media24), foto’s uit die Fagan-versameling, en foto’s uit Cloete Breytenbach se nalatenskap bykom, kry mens die bykomende, ontredderende blik op die gemoedere van die getroffenes. Veral Breytenbach se foto’s kry dit reg om die siel van die dorp en sy mense vas te vang.

Danksy die taal- en teksversorging (Bun Booyens en Potgieter), en die sekuur redaksionele leiding van De Villiers, maak die geskrewe bydraes die boek sy prys dubbel en dwars werd; die foto’s maak van hierdie boek ʼn ware versamelstuk. Dis ʼn kosbare toevoeging tot die geskiedskrywing oor ons volksboukunde.

Voorblad van Die Burger se spesiale uitgawe op die oggend na die aardbewing.